As die tyd reg is

As die tyd reg is

Nog 'n Cressida storie

(Soos op 2026 04 12)

Ek het baie begrip vir verknogdheid aan ‘n ou kar en die staatmaker in ons motorhuis dateer dan ook uit 2011.

Hierdie sentiment word darem gedeel deur heelwat van my vriende wie ook werkende en padvaardige ry-goed uit die tagtiger- en negentigerjare ry. Een van hulle is vriend Gerrie met sy 1985 Toyota Cressida,wat nou al ‘n afstand gelykstaande aan hiervandaan maan toe afgelê het.

Ons twee ruil gereeld opinies en wenke uit rondom oplossing van karskete en sy mees onlangse uitdaging het te make gehad met ’n stottering in sy Japanees se enjin, overgesetsynde die “timing” lol met gevolglike minder krag en drywing.

‘n Enjin wat nie gladloop nie se fout lê meestal by die spoel “coil”, vonkproppe en vonkpropdrade, of foutiewe tyd-instelling. Laasgenoemde het alles te doen met die vonk-verdelaar “distributor” met sy draaiende rotor en punte.

In die geval van Gerrie se kar is dit juis ’n assie tussen die vonkverdelaar en die kapasitor / “condenser” wat ‘n isolator makeer, amper soos ‘n pypie wat oor die assie pas. Hierdie isolator pypie verseker dat die elektriese lading wat van die spoel kom uitsluitlik na die punte self gaan en nie gedeeltelik na hierdie assie nie.

Hoe gemaak om so ‘n “isoleer-pypie” in die hande te kry vir so ‘n ou model?

‘n Jaar of wat gelede vergesel ek een dagg vriend Neels na Calex, ‘n onderneming in Pretoria-wes wat spesialiseer in enigiets elektries rakende motors. Neels het daardie dag sy Jeep se aansitter laat toets en nadat hulle die fout uitgewys het kon hulle aan hom die regte onderdele, terwyl ons wag vervang teen ‘n baie billike prys.

Vir Gerrie se pypie-soektog is Calex toe die eerste plek vir navraag. ‘n Baie geduldige Jabo luister aandagtig na my storie en gee die versekering dat ek beslis gaan regkom met ‘n onderneming in Centurion wat uitsluitlik spesialiseer in vonkverdelaars, D R C of “Distributor Recondition Centre”. en Jabu gee my hulle nommer.

‘n Baie vriendelike Samantha antwoord en stel voor dat ‘n teks boodskap met die motor se fabrikaat, jaarmodel en beskrywing van die onderdeel, dalk selfs ‘n foto daarby vir hulle genoeg wenke sal gee om te sien of hulle kan help.

Gewapen met al die inligting stuur Gerrie toe die beskrywende boodskap deur met ‘n foto aangeheg. Vier dae later laat weet hy my dat die assie isoleer-pypie per koerier by sy Rustenburg woning opgedaag het, hy dit self monteer het en sy Cressida nou weer soos ‘n Switserse horlosie gladloop. Die gesamentlike koste, koerier ingesluit, was honderd en vyftig rand.

Hier is D R C se nommers: 012 653 4251 sel 072 488 3763 Mike of Samantha

Vvriend Willie het ook al dikwels van hulle gebruik gemaak, veral vir die opgradering van ou vonkverdelaars na die meer moderne elektroniese weergawes.

Onthou dus D R C

As ‘n toegif my mees maklik-om-te-onthou bybelversie: K F C 4 3 2 of: Ef 4:32 Kindness, Forgiveness, Compassion

IJ Blom herfs 2026

Reaksies op hierdie storie:

Dankie vir die deel hiervan,inderdaad ‘n mooi storie, net om te weet dat daar nog mense is wat die ekstra myl of twee sal loop om te kan help. Dit gee mens sommer moed in ‘n wêreld waar elkeen net sy eie bas krap.”

“Baie dankie vir die GOEIE NUUS storie van plekke met mense wat nog graag wil en kan help.” “Baie dankie vir die storie - ek hou van stories met positiewe eindes! Ja, ons het ook 'n kan-nie-dood in die motorhuis: 'n 2002 Mazda Etude, so 'n bloue! Die nuwe goed is nie gebou om te hou of self te onderhou nie. Ons het onlangs gaste ontvang wie se nuwe ryding(seker nie eers ‘n jaar oud nie) nie wou vat toe hulle wou vertrek nie. Hulle moes 'n tegnikus (bystand) skakel wat van wie weet waar af hierheen moes ry om 'n kaart in die voertuig te vervang, iets soortgelyks aan die simkaart in 'n selfoon!!!!!! Neewat, gee my maar my ou Mazda of dan Gerrie se Toyota of so iets!”

“Baie dankie vir die inspirerende storie met die gelukkige einde. Ek sal beslis die inligting goed bewaar sodat ek dit kan benut wanneer die nood druk. My ou Ford Husky bakkie wat 'n 1989 model is, is hoeka in vir herstelwerk by 'n vriend nadat dit nie meer so lekker glad trek in al sy ratte nie. “

“My pa het rondom die laat tagtigs ook ń Cressida gery, sy pride and joy!!! Die motor was een maal per week gewas en amper elke dag met ń droëe lap gepoets net vir ingeval daar ń stoffie iewers geval het.

My skoonpa nou 91 het ook ń Cressida gery met ń lang lugdraad agter op. Die lugdraad was op ń veer gemonteer wat veroorsaak het dat dit met elke knik in die pad heen en weer geskut het tot groot vermaak van die kinders.

Vandag sou my ouers se 63ste huweliksherdenking gewees as my pa nog gelewe het. So dankie vir jou Cressida goedvoelstorie vandag, my laat glimlag en my gedagtes ver terug gevoer.”

“Baie dankie vir die GOEIE NUUS storie van plekke met mense wat nog graag wil en kan help.”

Uittreksel uit my "Postuur en waarheids-uur" storie "Met sy eerste paar tree, terwyl hy ‘n skiet-gebedjie doen vir sy gesin se veiligheid so alleen langs die pad,hoor hy ‘n toeter agter hom. Hy sien hoe die linker-agter flikker van ‘n ouerige wit Cressida met twee insittendes ‘n ent voor hom begin flits, gevolg deur die aftrek en stilhou links van die pad voor hom

Vir ‘n oomblik wel die dankbaarheid weer in hom op wat hy soveel keer beleef het in die dae toe hy tydens militêre diensplig moes ry-loop huistoe.

Die deur aan passasierskant gaan oop en ‘n bejaarde dame wink hom nader, maak die linker agter deur oop en skuif dan self daar in.

“Sit jy voor by die Oom meneer..” beveel haar voorvinger deur haar reeds-afgerolde vensterruit.

“Baie dankie..” hyg Vlam uitasem toe hy die oop linker-voordeur bereik, buk en sy regterhand uitsteek na die Oom wat half voor-oor agter die stuur naderbuig.

“Dagsê boetman..” kom dit van die Oom terwyl sy ander hand liggies aan sy enkel-veer hoed se rand raak. “Bert Willemse, ek neem aan jy het petrolmoeilikheid?”

“My eie skuld Oom, ek het nie die meter dopgehou nie. antwoord Vlam terwyl hy mik om in te klim en terselfdertyd werk aan ‘n plan om sy lyf in die klein spasie tussen die sitplek en paneelkissie in te wig.

Hy gaan sit half met een boud en trek dan die hefboom terwyl hy seker maak hy verontrief nie die Tannie agter hom toe hy die sitplek verstel nie.

Bert lyk of hy ‘n spook gesien het en Vlam is vir ‘n oomblik ontredderd en vra verward wat dan fout is. “Wat het jy nou- net gedoen boet?” vra Bert toe Vlam die deur toetrek en sy gordel aansit.

“Hoe bedoel Oom, het ek iets gebreek of wat is fout?” vra Vlam terwyl hy afkyk om seker te maak hy het nie dalk op iets breekbaar getrap nie.

“Jy het iets gedoen wat maak dat die sitplek nie meer is soos wat hy was nie, wat was dit?”

Vlam se linkerhand skiet weer baard toe soos hy ‘ oomblik van sin-maak beleef. Hy wonder of hy nie te veel van die Tannie agter hom se ruimte beslaan nie en hy laat sak dus sy linkerhand weer tot by die sitplek hefboom en herstel die sitplek weer so ‘n klikkie of twee vorentoe.

“kan daardie sitplek dan stel Boet?”

Vlam kan nie glo wat hy hoor nie. Is dit moontlik dat ‘n motor eienaar onbewus is van hierdie eenvoudige verstelling?

“Ja Oom mens kan dit vorentoe en agtertoe stel en mens kan ook die rugleuning stel..” Deel Vlam verlig die nuus

“Weet jy hoeveel rusies het ek en die Tannie al gehad van die dag af dat ons hierdie kar gekoop het omdat ons twee so ingeprop amper teen die dash-board moet sit? Ons het al oorweeg om ‘n groter kar te koop en nou sê jy mens skuif net die sitplek?”

“Ja Oom, maar ongelukkig net voor, die agterste sitplek is vas

“Net voor? Beteken dit my sitplek kan ook stel?” vra Bert verbaas.

Met sy geneigdheid om ‘n ligpunt in enige situasie te probeer raaksien, besef Vlam opeens amper iets kosmies en onverklaarbaar saamvallend:

Kan dit wees dat daar ‘n groter plan is agter alles wat so vreemd skeefgeloop het tydens hulle vakansie? Is hy en sy gesin gestuur om hierdie tyd van die middag paaie te kruis met hierdie, nou dankbare egpaar met die uitsluitlike doel om hulle te wys hoe mens ‘n Cressida sitplek verstel?

Einde van uittreksel

Volledige storie beskikbaar by: www.bloms.co.za/pen/sit.htm